
AfriForum het ’n medaljefonds vir die wenners van die Olimpiese en Paralimpiese Spele bekendgestel.
“Dit is skokkend dat die owerheid en SASKOK ons atlete in die steek laat. Die feit dat Adam Tas en talle ander AfriForum-lede ons versoek het om in te gryp, is weereens tekenend van ’n kragtige selfdoengemeenskap wat intree waar die owerheid misluk,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.
Hoewel Barry Hendricks, die president van SASKOK, gesê het dat hy met “sekere partye” in verbinding sal tree om vir vergoeding te onderhandel, kon hierdie situasie verhoed word indien SASKOK in die laaste paar jaar beter met hul fondse te werk gegaan het. “Wanbesteding is nie net ’n SASKOK-probleem nie. Talle sportlui ly onder die onverantwoordelikheid van komitees en federasies wat veronderstel is om na hul belange om te sien,” sê Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport.