Die Groenskrif oor die Nasionale Strategiese Plan

Posted 25 September 2009

Ons behoort almal die regering se uitnodiging om kommentaar te lewer op die Groenskrif oor die Nasionale Strategiese Plan, te verwelkom.  Die Groenskrif illustreer `n duidelike en oortuigende argument rakende die noodsaaklikheid vir nasionale beplanning en die samevatting van idees oor hoe die regering beoog om die beplanningsproses aan te pak.  Ons wil graag die volgende opmerkings maak:

  • Dit is onnodig om effektiewe regeringsbeplanning te bepleit.  Selfs in die vryste markekonomieë het die staat `n demokraties opgelêde verantwoordelikheid om nasionale prioriteite te identifiseer en om die breë weg wat die nasie en die ekonomie moet neem, vas te stel.
  • Dit is egter noodsaaklik om die korrekte balans te handhaaf tussen die staat en die markte.
    • Die staat is nie effektief wanneer dit kom by die generering van rykdom of die bestuur van ondernemings nie - juis omdat dit nie onderhewig is aan die reglemente van die markte nie; dit het geen kompetisie nie; en dit is nie toegerus vir entrepreneurskap of risiko nie.
    • Die staat moet breë aanwysings gee aan die ekonomie deur die vasstelling van ekonomiese, fiskale en arbeidsbeleide; dit moet noodsaaklike openbare dienste lewer op die mees koste-effektiewe wyse; en dit moet `n omgewing en infrastruktuur skep wat markte in staat sal stel om rykdom te genereer.  Suid-Afrika het redelik goed gevaar in hierdie verband en is 34ste uit 183 lande op die Wêreldbank se Ease of Doing Business-lys.
    • Die balans tussen die staat en markte moet vasgestel word op die punt waar die grootste vryheid moontlik is binne die raamwerk van noodsaaklike wette en regulasies.  Gemeenskappe wat die hoogste vlak van ekonomiese vryheid toelaat is ook die gemeenskappe wat die hoogste ekonomiese groei het, en dikwels ook die grootste sukses in die behaling van sosiale doelwitte.  Volgens die 2009 Ekonomiese Vryheid van die Wêreld het Suid-Afrika die 58ste vryste ekonomie in die wêreld, af van 49ste in 1995.
    • Hoe meer natuurlike  hulpbronne die staat gebruik, hoe minder hulpbronne sal die private sektor tot sy beskikking hê vir die generering van rykdom.
    • Hoe hoër die vlakke van staatsbeheer, regulasie en beheer, hoe minder ruimte is daar vir persoonlike vryheid, inisiatief en ondernemingsin, wat noodsaaklik is vir die generering van rykdom.
  • Die meeste munisipaliteite en provinsies en baie nasionale regeringsdepartemente het eenvoudig nie die vermoë om nasionale planne effektief uit te voer nie.  Die beplanningsproses moet, met die aanvang daarvan, die kroniese wanfunksionering van publieke administrasie op al drie vlakke van die regering en semistaatsinstellings aanspreek.  Volgens die Ouditeur-Generaal het slegs drie van Suid-Afrika se 283 munisipaliteite behoorlike rekeninge voorgelê.  Baie staatsdepartemente, meeste provinsies en meeste regeringskorporasies - Eskom, die Landbank, SAA, die SAUK - is eweneens wanfuksionerend.
  • `n Noodsaaklike prioriteit moet wees om die onaanvaarbare vlakke van ongelykheid in ons gemeenskap aan te spreek, nie net omdat dit `n grondwetlike vereiste is nie, maar omdat dit onvolhoubaar is en `n hoofsimptoom is van die ernstige wanfunksies in ons gemeenskap.  Bowenal moet mense bemagtig word deur werkskepping; beter opvoeding en effektiewe dienslewering in alle vlakke van die regering.  `n Toename in die betaling  van sosiale toelae is nie die antwoord nie.  Daadwerklike stappe moet geneem word om die GINI koëffisiënt van .66 (een van die swakstes in die wêreld), wat ongelykheid meet,  te verbeter, asook ons Menslike Ontwikkelingsindeks, wat Suid-Afrika in `n skokkende rang van 122ste in die wêreld plaas.
  • Effektiewe stappe moet geneem word om misdaad te beveg om sodoende `n veilige omgewing vir burgers en beleggers te verseker.  Die World Economic Forum’s Global Competitiveness Report (WEF-GCR) het die betroubaarheid van die SAPD op 106 uit 133 lande beraam.  Suid-Afrika was 119de in terme van georganiseerde misdaad en het die hoogste misdaadskoste vir besighede in die wêreld.
  • Beplanning sal net slaag as die onderwysstelsel `n voldoende opgeleide en opgevoede arbeidsmag lewer.  Van die 1.67 miljoen kinders wat hul skoolloopbane begin het in 1995 het slegs 34% matriek geskryf in 2007;slegs 22% het geslaag; `n skamele 5.2% het matriekvrystelling behaal en net 1.4% het wiskunde op hoër graad geslaag.  Van die 133 lande wat deur die WEF-GCR geassesseer is, is Suid-Afrika 119de in terme van die kwaliteit van die onderwysstelsel; 123ste met betrekking tot die beskikbaarheid van wetenskaplikes en ingenieurs; en 133ste met betrekking tot die kwaliteit van wiskunde en wetenskapopvoeding.
  • Die Groenskrif beklemtoon met reg die noodsaaklikheid vir effektiewe staatsinstellings.  Mense van onbetwiste integriteit, vermoë en onafhanklikheid moet aangestel word  as Ouditeur-Generaal; Openbare Beskermer; Voorsitter van die Menseregtekommissie; Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings; die Staande Komitee vir Openbare Rekeninge; die Regterlike Dienskommissie - en selfs meer belangrik, die regbank.
  • Die regering moet deur pragmatisme gelei word tydens die beplanningsproses.  Ideologiese benaderings misluk sonder uitsonderings.  Beplanners moet dit wat werk (soos die Tesourie en SARS), ondersoek, en dit in ander areas repliseer.  Hulle moet inmenging in sektore wat redelik goed vaar, vermy, soos die private gesondheidsektor en model C-skole.  Hulle moenie demografiese verteenwoordiging en regstellende aksie maatreëls - wat in die openbare sektor misluk het - op die privaatsektor afdwing nie.  Spesifiek sal enige verdere pogings om eiendomsregte te ondermyn, beleggings ernstig striem.
  • Werkskepping, belegging en ekonomiese groei sal verhoog word deur meer buigbare arbeidsbeleide.  Die WEF-GCR het Suid-Afrika een van die swakste posisies in die wêreld in terme van arbeidsbeleide toegeken.  Een van die hoofoorsake van Suid-Afrika se onaanvaarbare hoë werkloosheidsyfer is die onbuigbaarheid in die arbeidsmark.  Werkloosheid is ook `n groot bydraer van endemiese armoede en ons mislukking om groter gelykheid te bevorder.  Van die 133 lande wat deur die WEF geassesseer is was Suid-Afrika 105de in betalings en produktiwiteit; 121ste in samewerking in arbeidswerkgewer-verhoudinge; 123ste in buigbaarheid van loonvasstelling; en 125ste in indiensneming en ontslaan-prakyke.
  • Die skrywers van die Groenskrif het ekstensiewe navorsing onderneem oor die beplanningsaktwiteite van verskeie lande.  Alhoewel hulle wou leer by ander ontwikkelende lande, moes hulle ook die werklik suksesvolle lande bestudeer het - soos Ierland; Hong Kong; Singapoer en Nieu-Seeland.
  • Ons beplanning moet gelei word deur objektiewe internasionale assesserings van waar ons goed vaar en waar ons sleg vaar.  Ons vaar goed op die gebied van demokratiese regering; die oppergesag van die reg; beskerming van eiendom; finansiële instellings en makro-ekonomiese beleide.  Ons vaar sleg met betrekking tot ongelykheid; misdaad; onderwys; onbuigsame arbeidsbeleide; openbare gesondheidsorg en dienslewering.  Beplanning moet ook fokus op die versterking  van dit waarin ons goed vaar en om effektiewe stappe te neem om dit waarin ons sleg vaar, aan te spreek.