Toespraak deur Voormalige President FW de Klerk by die Windhoek Afrikaanse Privaatskool op 30 Junie 2012

by FW de Klerk
Posted 4 July 2012

TOESPRAAK DEUR VOORMALIGE PRESIDENT FW DE KLERK BY DIE WINDHOEK AFRIKAANSE PRIVAATSKOOL OP 30 JUNIE 2012, WINDHOEK

Wat ons vanaand byeenbring is ons gemeenskaplike liefde vir Afrikaans en ons vaste oortuiging dat moedertaal onderwys in die beste belang van die jeug is. Verder is ons saam bekommerd oor die toekoms van Afrikaans, in die lig van die toenemende druk waaraan dit onderwerp word.  

Hieruit kom ‘n aantal dringende vrae na vore: 

  • Wat staan ons te doen om moedertaal onderwys te beskerm en te bevorder?
  • Hoe kan ons die onbetwisbare druk op Afrikaans ten beste teenwerk?  
  • Hoe kan ons ten beste uitdrukking gee aan ons liefde vir ons taal?

In die loop van my toespraak sal ek poog om u gedagtes hieroor te prikkel. Maar kom ons begin by ‘n basiese vertrekpunt – die dieper betekenis van taal. Taal is veel meer as bloot ‘n medium van kommunikasie. Vir alle taalgebruikers is hul taal ‘n intrinsieke deel van hul identiteit, kultuur en diepste wese. 

  • Ons droom, sing, lag, treur en bid ten beste in die taal wat ons aan moedersknie geleer het.  
  • In ons moedertaal kan ons onsself ten beste uitdruk.
  • Ons taal lê aan die hart van ons begrip en ons uitkyk op die lewe.  
  • Ons taal is verweef met ons kultuur, ons menswees en ons menswaardigheid.

Oliver Wendell Homes het gesê taal is die bloed van ons siel waarin gedagtes hardloop en vanuit groei. Elke mens op aarde koester woorde, emosies, idees en gedagtes wat vry wil wees. Die sleutel tot daardie bevryding is taal.  

Dit alles is waar vir ons wat Afrikaans koester as ons moedertaal. Maar dit is ewe waar vir al die taalgebruikers van al die inheemse tale van Suider Afrika – en vir Franse en Duitsers en alle wêreldtale.  

Binne hierdie raamwerk kan ons, vir wie Afrikaans belangrik is, ‘n eerbare plek vir Afrikaans in multikulturele Suider Afrika opeis. In Suid-Afrika vandag is Afrikaans die moedertaal van bykans 7 miljoen Suid-Afrikaners. Dit is rofweg 13% van die Suid-Afrikaanse bevolking. Afrikaans is die derde grootste moedertaal in Suid-Afrika en geniet die wydste geografiese verspreiding van al Suid-Afrika se amptelike tale.

Afrikaans is ook in ‘n sin Namibië se nie-amptelike lingua franca. Dit word wyd gepraat as ‘n tweede taal en is die moedertaal van bykans 11% van Namibië se totale huishoudings.

Verder is Afrikaans ook ‘n nie-rassige, inklusiewe taal. Dit is die eerste taal van nagenoeg 200 000 swart en meer as 6 miljoen wit en bruin mense in Suid-Afrika. Groot getalle swart en wit Suid-Afrikaners praat ook Afrikaans as tweede taal. In Namibië geniet Afrikaans grondwetlike erkenning as taal van onderrig in skole, alhoewel die amptelike taal van Namibië, Engels is. Afrikaans word ook gereeld gepraat in dele van Botswana, Zambië, Malawi en Zimbabwe.

Ondanks hierdie feite is Afrikaans byna oral onder druk. In Suid-Afrika – waar dit ‘n amptelike taal is – is die druk besig om toe te neem.  

  • Dit is onder druk in die Suid-Afrikaanse media en besigheidswêreld.
  • Dit word al hoe minder gebruik in ons howe en binne Staatsverband.
  • Tradisioneel Afrikaanse universiteite asook Afrikaanse enkelmedium hoër - en laerskole verkeer onder toenemende politieke druk.  

Dit alles vind grotendeels plaas onder die rookskerm van transformasie. Daar is op kommerwekkende wyse politieke inmenging by die outonomie van universiteite asook skoolbeheerliggame in Suid-Afrika.

Die aantal Afrikaanse enkelmedium skole het aansienlik verminder sedert 1993. Van die 1 396 wat daar in 1993 was, het 150 omgeskakel na dubbelmedium onderrig, 377 na parallelmedium onderrig en 30 het heeltemal verengels. Teen 2003 was daar slegs 839 Afrikaanse enkelmedium skole oor in Suid-Afrika.  

Afrikaans is ook onder druk by ons universiteite. In 1994 was die Universiteit van Pretoria 77% Afrikaanssprekend.  Dit het tot 39% gedaal in 2009. By die Universiteit van Stellenbosch - die vlagskip van Afrikaanse tersiêre instellings en waar baie Windhoek en Gobabis nommerplate te siene is - is dosering in Afrikaans drasties aan die afneem.

Die meeste universiteite in Suid-Afrika vandag, insluitende tradisioneel Afrikaanse universiteite asook die sogenaamde tegnologiese universiteite (ou technikons), bied onderrig oorwegend in Engels aan. Afrikaans (en enkele ander tale soos isiZulu) se rol word beperk en word hoofsaaklik deur middel van dubbelmedium of parallelmedium aangebied.

Die probleem met dubbelmedium onderrig - waar ‘n inheemse taal saam met Engels as onderrigtaal aangebied word - is dat die inheemse taal die onderspit delf.  

In Namibië - omdat Engels die enigste amptelike grondwetlike taal is - is Engels die taal van onderrig by die Polytechnik van Namibië, asook die Universiteit van Namibië. Maar ook hier is die effek van verengelsing op inheemse tale merkbaar:

  • Daar is ‘n afname in die aantal studente wat Afrika-tale studeer by die Universiteit van Namibië.
  • In 1995 was daar ongeveer 100 studente wat Oshindonga studeer het. In die akademiese jaar van 1999/2000, was daar nie een nie.

As al die tradisionele Afrikaanse skole en universiteite in Suid-Afrika op ‘n glybaan van verengelsing wegsink, wat sal die implikasies wees vir Afrikaans as wetenskapstaal? As Afrikaans kwyn of verdwyn as ‘n akademiese taal in Suid-Afrika, wat sal die toekoms van oorblywende Afrikaanse laer- en hoërskole wees? En as dit in Suid-Afrika sou gebeur, hoe sal dit die toekoms van Afrikaans in Namibië raak?  

Teen die agtergrond van hierdie donker prentjie, wil ek terugkom by die vrae wat ek aan die begin gestel het.  

  • Wat staan ons te doen om moedertaal onderwys te beskerm en te bevorder?
  • Hoe kan ons die onbetwisbare druk op Afrikaans ten beste teenwerk?  
  • Hoe kan ons ten beste uitdrukking gee aan ons liefde vir ons taal?

Ek wil drie breë riglyne aan die hand doen:  

  1. Ons moet veel sterker as tans, uit ‘n opvoedkundige hoek, die belangrikheid van moedertaal onderwys tuisbring.
  2. Ons moet die regmatige erkenning van Afrikaans opeis - in die geval van Suid-Afrika binne die raamwerk van ons Grondwet.
  3. Ons moet Afrikaans positief bemark as ‘n bate vir ons land, as ‘n taal van waarde vir veel meer as dié vir wie dit hul moedertaal is.  

Eerstens dan moedertaal onderwys:

Gerespekteerde opvoedkundiges is dit eens: Moedertaal onderrig is van kardinale belang vir ‘n kind se optimale kognitiewe en akademiese ontwikkeling. En dit gaan hier nie net om Afrikaans nie. Dit gaan oor alle tale.

Leerders behoort vir so lank as moontlik in hul moedertaal onderrig te word, veral tydens grondslagfase en die eerste 6 tot 8 jaar van onderrig. Navorsing toon dat leerders kern onderwerpe en kennis baie vinniger in hul moedertaal aanleer en dat, sou dieselfde konsepte in ‘n tweede of derde taal aangeleer word, dit eerder bloot gememoriseer word as wat dit geïnternaliseer word.

Baie Afrikaanssprekende ouers blyk louwarm te wees betreffende moedertaal onderrig. Te veel van hulle sien Engelsmedium klasse as ‘n aanwins instede van te vra wat opvoedkundig in hulle kinders se beste belang is.  

Die uitdaging is dus om Afrikaanse ouers as ‘n teikengroep te benader en ‘n lewendige gesprek met hulle te voer oor onder andere wat in die beste belang van hulle kinders is - om op ‘n vroeë stadium redelik te kan Engels praat of om die beste moontlike grondslag te kry vir latere akademiese prestasie. In so ‘n debat moet die mite dat skoolopleiding in ‘n tweede of derde taal jou beter voorberei vir jou latere lewe aangespreek word.   

Op universiteitsvlak moet ons ouers, alumni, donateurs en ander belanghebbendes motiveer om op die speelveld te wees - om hulle invloed te gebruik om te verhoed dat Afrikaans op tersiêre vlak verder op ‘n glybaan beland.  

Tweedens die opeising van die regmatige erkenning van Afrikaans:  In Suid-Afrika bied die onderhandelde Grondwet van 1996 omvattende beskerming van taal- en kulturele regte. Ongelukkig word hierdie beskerming veels te veel omseil of deur administratiewe aksie ondergrawe.  

Die uitdaging in hierdie verband is om op en wakker te wees; om miskenning van taalregte betyds te identifiseer; om waar dit voorkom aksieplanne te ontwikkel om dit teen te werk;  en wanneer praat nie help nie, na die Konstitusionele Hof te gaan vir regstelling. Dit is presies wat ons in die Sentrum vir Grondwetlike Regte in die FW de Klerk Stigting probeer doen. Terselfdertyd gaan ons uit ons pad om te help verseker dat die opeising van taalregte nooit ‘n rookskerm vir rasse diskriminasie mag wees nie.  

Ook u in Namibië moet weë en middele vind om die ruimte wat u Grondwet wel aan Afrikaans bied effektief te benut. Ek wens u krag en sterkte daarmee toe.  

Derdens bepleit ek dat ons Afrikaans moet bemark as ‘n taal van waarde vir almal. Die beeld van Afrikaans as die taal van die “verdrukker” moet afgebreek word. Dit is, in soverre dit waar was, lankal nie meer so nie. En in die jare van apartheid was dit tog ook die taal van miljoene “verdruktes”.  

Afrikaans het ‘n taal van Afrika geword. N P van Wyk Louw het dit onder andere soos volg gestel:  

“Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind... Dit vorm 'n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika... En wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek. Maar wat ons nooit moet vergeet nie, is dat hierdie verandering van land en landskap as't ware aan die nuwe wordende taal geslyp, geknee, gebrei het... Ons taak lê in die gebruik wat ons maak en sal maak van hierdie glansende werktuig.”

Die ontperking van die ANC en ander organisasies en die ander verreikende stappe wat ek op 2 Februarie 1990 aangekondig het, staan ook in Afrikaans opgeteken in die Hansard van die Suid-Afrikaanse Parlement.  In die sin, is die einde van apartheid ook in Afrikaans aangekondig.  

Afrikaans is ook ‘n taal van waarde omdat dit mooi en kleurryk is. In watter ander taal kan ‘n mens juig: “My nooi is in ‘n nartjie, my ouma in kaneel”?  

Dit is ‘n taal wat nie net moet oorleef nie, maar eerder moet floreer. Ons moet Afrikaans lewendig hou - oud en jonk - in die kunste. In musiek. In literêre werke. Op die internet. Ons moet Afrikaans praat en koester want ‘n taal is net so dinamies soos die mense wat daardie taal hul eie noem. Om daardie rede moet ons aanvaar dat Afrikaans in ons eie hande lê.  

Ons uitdaging is om Afrikaans se positiewe beeld uit te bou en om dit die taal van vrede, samewerking en versoening te maak.  

My afsluitingswoord aan julle in die Windhoek Afrikaanse Privaatskool het ek in julle skoollied gevind, met ‘n knippie digterlike vryheid:  

Waar die riffel-rante die hemelblou in skerp ets sny
En jul land se ruimtes wyd tuimel
Waar die stilte stol in bloedrooi aalwynkrone
En saadvingers hul lied na bowe sidder
Sweef op vlerke van geloof, hoop en liefde
En hou aan staan vir Afrikaans