Verklaring oor moord op Eugene Terre'Blanche
FW de Klerk Stigting > Bydraes
Dit is met skok en afgryse dat ek kennis geneem het van gister se moord op mnr Eugene Terre’Blanche.
Alhoewel ek geen simpatie gehad het met wyle mnr Terre’Blanche se politieke sienings en rol nie, is die essensie van ons demokrasie juis dat ons verdraagsaam is teenoor diegene van wie ons verskil – op dié voorwaarde dat hulle hulself hou aan die land se wetlike raamwerk en die gees van ons Grondwet.
Op 24 Maart 2010 het ek aan President Zuma geskryf oor die toenemend opruiende toon van die nasionale debat en die rol wat die ‘Skiet die Boer’-lied in dié verband besig was om te speel. Ek het daarin geskryf dat ek ‘diep bekommerd is dat die aktiwiteite en die uitsprake van die ANCJL gebruik word deur regse ekstremiste om interrassige verhoudings verder te versleg. Al hierdie dinge is besig om ‘n volatiele atmosfeer te skep waarbinne enige bykomende onbeheersde stelling of aksie die vonk mag wees vir ‘n baie ongelukkige insident.’
Daar moet nog bepaal word of die ‘Skiet die Boer’-lied ‘n rol gespeel het in mnr Terre’Blanche se moord. Dit kon egter op die minste bygedra het tot ‘n atmosfeer waarbinne beïnvloedbare, jong, swart plaaswerkers kon gevoel het dat hul optrede op een of ander manier geregverdigd was. Mnr Malema het gesê dat hy sou voortgaan om die ‘Skiet-die-Boer’-lied in weerwil van die howe te sing. Hy is besig om spanning tussen gemeenskappe verder aan te blaas deur openlik ondersteunend te wees van die anti-wit rassisme van President Mugabe en die ZANU-PF.
In my brief aan President Zuma het ek ‘n ‘mees ernstige en dringende beroep’ gedoen op hom, ‘as leier van ons multikulturele land, om die leiding te neem in die versagting van die toon van die nasionale debat en in die versekering daarvan dat dit gevoer word op ‘n wyse wat nasionale eenheid en eerbiediging van die letter en gees van die Grondwet bevorder.’
Ek sal graag hierdie beroep wil herhaal en ek ondersteun ook die oproep deur President Zuma en ander leiers tot kalmte. Die reg moet toegelaat word om sy loop te neem.
Ek sal ook ook graag my opregte meegevoel wil betuig met mnr Terre’Blanche se familie en vriende.
Comments
Published in: FW de Klerk Stigting > Bydraes



